Al Wat Ek Weet – Silwerskermfees se Feesgunsteling, Vanaf 30 Oktober in Rolprentteaters Landwyd

Share This Article:

Die splinternuwe Afrikaanse speelfilm Al wat ek weet, wenner van die Feesgunsteling-toekenning by vanjaar se kykNET Silwerskermfees, skitter vanaf 30 Oktober op die grootdoek in uitgesoekte rolprentteaters landwyd.

Lokprent

Al Wat Ek Weet Draf Met Erkennings Weg

Die film het ook die afgelope naweek die Award of the Youth Jury-toekenning gewen by die SCHLiNGEL Internasionale Filmfees in Chemnitz, Duitsland, en is ook met ’n eervolle vermelding bekroon.

Benewens die Feesgunsteling-toekenning, het Al wat ek weet ook die Silwerskermtoekennings vir beste klankontwerp (Guy Steer) en beste produksieontwerp (Rocco Pool) gewen.

Al wat ek weet is gegrond op die geliefde, gelyknamige jeugroman van Marita van der Vyver en vertel ’n aangrypende grootwordverhaal oor verlies, familie, identiteit, eerste liefde en die krag van woorde.

Die Storie

Wanneer ’n motorongeluk sy ma se lewe eis en sy pa hom in ’n kliniek van die lewe onttrek, word die sewentienjarige Gabriel Lombard (Jonan Mouton) uit sy groen, boomryke voorstad teen Tafelberg ontwortel en gestuur om by sy antie Lotta (Zenobia Kloppers) en ouma Lenie (June van Merch) in ’n beknopte huis in Woodstock te gaan woon. Vasbeslote om nie soos sy pa in duie te stort nie, begrawe hy sy verdriet agter ’n koel fasade, wilde leuens en ’n ooraktiewe verbeelding, waarin ’n Kaapse Klopse-blaasorkes hom deur die strate jaag.

In terapie ontmoet hy vir Sasha en raak verlief op haar. Om nader aan haar te kom, word hy oorreed om aan die skool se slam-poësie-kompetisie deel te neem. Maar hoe nader die kompetisie kom, hoe harder beur sy onderdrukte verdriet na die oppervlak, totdat die seun wat van alles weghardloop uiteindelik moet omdraai om sy rou in die oë te kyk.

Rolverdeling

Die rolverdeling sluit in Jonan Mouton (Die sentrum, Arendsvlei), Antoinette Myburgh (Wyfie, Alpaca), Zenobia Kloppers (Fiela se kind, Barakat), June van Merch (Barakat, Die Kwiksilwers), Gretchen Ramsden (Carissa, Skemergrond), Waldemar Schultz (Die Bloedhonde, Die Byl), Elton Landrew (Barakat, Spinners), Jana Cilliers (’n Plekkie in die son, Die Boekklub), Abduragman Adams (Barakat, Indemnity) en Hildegardt Whites (7de Laan, Skemergrond).

Onder regie van Devon Delmar en Jason Jacobs, bied Al wat ek weet ’n vars, hartroerende blik op jongmense se uitdagings, familieverhoudings en die soeke na hoop te midde van moeilike omstandighede.

“Wat ons van die begin af aangegryp het, was Gabriel se reis van rou na hoop. Dit is ’n storie oor verlies en tweede kanse, maar ook oor die mense wat ons help om weer sin van die lewe te maak wanneer alles uitmekaarval. Ons hoop gehore sal hulself op die een of ander manier in hierdie karakters herken en die rolprent met ’n gevoel van hoop verlaat,” sê die regisseurs, Devon Delmar en Jason Jacobs.

Dié duo het reeds internasionale erkenning verwerf met hul debuutrolprent, Carissa, wat in die Orizzonti-kompetisie van die internasionale rolprentfees in Venesië vertoon is. Hul opvolgspeelfilm, Variasies op ’n tema (Variations on a Theme), het vanjaar die gesogte Tiger-toekenning by die Internasionale Rotterdam-rolprentfees gewen en is onlangs as Suid-Afrika se amptelike inskrywing vir die 99ste Oscar-toekennings in die kategorie vir beste internasionale rolprent aangewys.

Al wat ek weet is vervaardig deur Annemarie du Plessis van Meria Produksies en word plaaslik versprei deur Filmfinity.

Rolprentteaters Landwyd Waar Al Wat Ek Weet Op 30 Oktober Open

Ster-Kinekor

  • Brooklyn, Pretoria
  • Garden Route Mall, George
  • Rosebank Nouveau, Johannesburg
  • Somerset Mall, Kaapstad
  • Tygervallei, Kaapstad
  • V&A Waterfront, Kaapstad

Nu Metro

  • Canal Walk, Kaapstad
  • Cavendish, Kaapstad

Onafhanklike Rolprentteaters

  • Labia, Kaapstad
  • Minimax Cinema, Paarl
  • Road House at Neelsie, Stellenbosch
  • Road House at Whale Coast, Hermanus

Bron en Verwysings

https://silwerskermfees.co.za/

Lees ook: 14th kykNET Silwerskermfees Celebrates South African Storytelling in Camps Bay

kykNET

Tags :

Annette Havenga

womeninmedia@happeningnews.co.za

Journalist Writer Radio Presenter

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Stay Informed

Subscribe for breaking news, trusted South African reporting, exclusive interviews and our weekly news roundup.

No spam. Unsubscribe anytime.

    Categories

    About HappeningNews

    HappeningNews is an independent South African digital news platform delivering breaking news, insightful features, lifestyle stories, and inspiring voices.

    Home to Women in Media and our exclusive editorial columns, we keep readers informed with accurate and engaging content from South Africa and around the world.

    © 2026 HappeningNews. All Rights Reserved. 

    Independent South African Digital News Platform