Openbare Beskermer lig massiewe NSFAS-flater uit
‘n Verslag van die Openbare Beskermer het aan die lig gebring dat sowat 40 000 studente onbehoorlik deur NSFAS befonds is, wat tot ‘n verlies van nagenoeg R5,1 miljard gelei het. Sowat R2 miljard is reeds verhaal, terwyl die Openbare Beskermer beplan om te eis dat daar stappe gedoen word teen nalatige amptenare. Die beursfonds word steeds gekniehalter deur ernstige administratiewe swakhede en gebrekkige bestuurstelsels.
CPUT sluit alle kampusse ná gewelddadige onrus
Die Kaapse Skiereilandse Universiteit van Tegnologie (CPUT) het alle kampusse gesluit en studente beveel om koshuise summier te ontruim ná ‘n brandstigtingaanval op die Bellville-kampus. Die bestuur het gewaarsku dat die toenemende geweld tot ernstige beserings of selfs lewensverlies kan lei.
Duisende poste in gedrang by African Bank
Sowat 1 200 poste by African Bank staar moontlike afleggings in die gesig ná die bekendmaking van die bank se jongste finansiële resultate. Die bank het ‘n stewige verlies van R624 miljoen aangeteken, wat die instelling noop om sy bedrywighede te herstruktureer.
Tiener in hof oor internasionale kinderporno-netwerk
‘n 16-jarige seun het in die hof verskyn in verband met ‘n internasionale kinderpornografie-web. Die polisie vermoed ook dat die tiener betrokke is by “764”, ‘n gewelddadige internasionale aanlyn ekstremistiese netwerk wat met kinderuitbuiting verbind word.
Springbokke verwerp bewerings oor stadige spel
SA Rugby se nasionale reëlskonsultant, Jaco Peyper, het bewerings verwerp dat die Springbokke die tempo van die spel opsetlik vertraag. Volgens Peyper strook hierdie narratief hoegenaamd nie met die amptelike terugvoer wat van Wêreldrugby ontvang word nie, en speel die Bokke binne die duidelike raamwerk van die reëls.



