Vanaf Woensdag 9 Desember betree 12 deelnemers uit verskillende dele van Suid-Afrika die bosveld in kykNET se splinternuwe realiteitsreeks Jagter, waar hul vaardigheid, karakter, oordeel en waardes deur ’n reeks taai uitdagings getoets sal word.
Lees ook: Jagter Toets Vaardigheid, Karakter en Etiek – Nuwe kykNET-realiteitsreeks
Maar Jagter gaan oor veel meer as skietvernuf. Die deelnemers moet ook hul veldkennis, spoorsny- en oorlewingsvaardighede en vermoë om onder druk besluite te neem en te presteer bewys.
Onder die 12 uiteenlopende deelnemers is ervare boogjagters, boere, entrepreneurs, sportlui en selfs ’n sakeman met ’n groot gevolg op sosiale media. Wat hulle almal deel, is ’n passie vir die veld, die natuur en verantwoordelike jag.
Table of Contents


Ontmoet die Deelnemers
- Adon Sinclair
36-jarige elektrisiën van Richardsbaai, KwaZulu-Natal. Dié avontuurlustige boogjagter droom daarvan om eendag ’n wildslodge te bestuur en glo dat respek vir die dier deel van elke jagtog moet wees.
- Dillon Adonis
33-jarige boukontrakteur van Polokwane, Limpopo. Met boks en gemengde gevegskuns onder sy stokperdjies bring hy veggees en ’n sterk wil om te wen na die kompetisie.
- Elise Wiese
42-jarige huisvrou en boer van Lady Grey in die Oos-Kaap. Sy jag al sedert haar vyftiende lewensjaar en bring jare se ervaring en ’n diep respek vir die natuur na die reeks.
- Enrico Daniels
51-jarige stoorman van die Paarl. Hoewel hy eers op 44 begin jag het, het die passie hom vinnig beetgekry en droom hy steeds van die perfekte koedoejag.
- Francois Liebenberg
39-jarige entrepreneur van Stellenbosch. ’n Uitgesproke optimis wat floreer onder druk en nie terugdeins vir ’n uitdaging nie.
- Michelle Abreu
41-jarige administratiewe beampte van Pretoria. Sy het haar eerste vlakvark met ’n boog gejag en is bereid om alles in te sit om haar doelwitte te bereik.
- Michelle van den Heever
36-jarige plaasadministrateur van Rustenburg. Jag loop diep in haar familie se geskiedenis en haar passie vir die veld is van kleins af deel van haar lewe.
- Petrus Vermaak
64-jarige boer van buite Gqeberha. Met Proteakleure in kleiduifskiet en dekades se ervaring is hy een van die mees gesoute deelnemers aan die kompetisie.
- PC Beneke
36-jarige sportbestuurder by ’n skool in die Paarl. Sy sport-agtergrond en liefde vir spoorsny maak hom ’n gedugte teenstander.
- Shawn van Zyl
43-jarige produkbestuurder van Pretoria. Met sy humorsin en passie vir wildsvleisgeregte bring hy hope energie kamp én veld toe.
- Devon Hofmeyr
32-jarige besigheidseienaar en bekende sosialemediapersoonlikheid van Roodepoort. Hy is uitgesproke, avontuurlustig, sterk mededingend en gereed om sy stempel af te druk.
- Viv Aspeling
38-jarige sakeman van Pretoria wat in mynbou en handel werksaam is. Hy kombineer ’n skerp humorsin met ’n passie vir jag en gemeenskapsbetrokkenheid.
Bron en Verwysings
Jagter begin op Woensdag 9 Desember om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Die reeks sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.
kykNET
https://inboundsa.com/jagter-contestants-kyknet-reality-series/













